Ons paaie het op 5 Januarie 2023 in Grootbrakrivier gekruis, toe Shanri as kelner gewerk het by ’n waffle house. Jeandré het op die stoep gesit, en vir Shanri was dit liefde op die eerste oogopslag – sy het dadelik gedink: “Dis die mooiste man wat ek nog gesien het.” Jeandré het verlief geraak op die sagte manier hoe sy gepraat het met sy ma. ’n Paar dae later het hy haar opgespoor op Instagram en gesels begin met die woorde: “Daai Piña Colada was heerlik, dankie.”
Op 12 Januarie het ons eerste afspraak plaasgevind – ’n dag vol lag, avontuur en selfs ’n bietjie drama toe Dash, ons geliefde hondjie, amper verlore geraak het onder die sitplek van die bakkie. Van daardie dag af het ons elke oomblik saam geniet – van lang stappies op die strand en diep gesprekke tot laatnagkuier op die strand onder die maan.
Binne ’n paar dae het ons al geweet: ons het ons persoon gevind. Selfs toe die 3-ure-langafstand ons daagliks toets, het ons liefde net sterker geword. In 2024 het die Here die pad oopgemaak dat ons saam in Durbanville kon wees – net 10 minute van mekaar af.
Op 21 April 2025, bo-op ’n koppie naby Montagu, het Jeandré se hart vinniger geklop as ooit. Hy het die kamera opgestel soos altyd op avonture, maar hierdie keer was daar ’n spesiale rede: hy het gevra, en sy het “ja” gesê.
Nou begin ons die mooiste hoofstuk van ons storie – saam as man en vrou, met die Here as ons Vaste Rots en Fondasie.





